Ons boskamp lê op die plaas Kazi Mingi, in Geelhoutkloof, tussen Modimolle (Nylstroom) en Vaalwater in die asemrowende Waterberg gebied. In die koelte van ons bosveld bome vergeet 'n mens heeltemal van die stad.
Hierdie groente-, vrugte- en neut plaas, wat 45 hektaar groot is, is in die Mootvallei tussen die Swaershoek- en Waterberge geleë - agttien hektaar hiervan is natuurlike veld. Hier is 'n wegbreek plek geskep vir diegene wat wil wegkom van die stadslawaai.
Die kampeer terrein word doelbewus klein gehou en bied privaatheid vir diegene wat dit verkies. Daar is vyf staanplekke elkeen met sy eie kragpunt, braaiplek en sy eie bosveld bome vir koelte.
Die sentrale fasiliteite sluit in twee skoon, netjiese ablusie blokke, 'n kombuis, ontspanningsaal/vergader area, kuier kraal (lapa) en 'lapa kombuis', mini-swembad, opelug stort en ook 'n gronddam wat nie ver van die kamp af is nie. Daar sal in die nabye toekoms geleentheid wees om ook hier vis te vang.
Kazi Mingi is ook die ideale bestemming vir kleiner groepe wat die plek vir hulself wil hê. Die kuier kraal kan tot 25 mense huisves wat saans saam wil kuier. Bedags kan daar by die mini swembad vergader word.
Binne stap afstand vanaf die kampeer area is daar ’n hartbees-boshuisie met 'n dubbel-bed vir mense wat nie wil kamp nie. Daar is nog 'n bed in die sitkamer vertrek. Die safari tent reg langsaan het twee enkel-beddens, ’n eie badkamer, braaiplek, gasstofie en skottelgoedwas geriewe, wat hierdie aparte gedeelte ideal maak vir familielede of vriende wat nog nie kampgereedskap aangeskaf het nie, maar die uitstappie graag wil meemaak.
'n Uitkyk toring bied ’n pragtige uitsig oor die bosveld en berge wat amper reg rondom kop uitsteek. Dit is ’n wonderlike plek om sonsopkoms en ook die bekende oranje-geel-pers bosveld sonsondergang te bewonder.